Natuurlike satelliet

In die Sonnestelsel is 19 natuurlike satelliete wat groot genoeg is om rond te wees en een, Saturnus se Titaan, het ’n aansienlike atmosfeer.

’n Natuurlike satelliet, of maan, is ’n hemelliggaam wat om ’n ander hemelliggaam met ’n groter massa wentel (byvoorbeeld om ’n planeet, ster of dwergplaneet, wat sy hoof- of primêre liggaam genoem word).[1][2] So is die Maan ’n natuurlike satelliet van die Aarde, en die Aarde ’n natuurlike satelliet van die Son.

In die Sonnestelsel is 173 bekende natuurlike satelliete[3][4] wat in ses satellietstelsels voorkom. Verder is daar verskeie ander voorwerpe wat satelliete het, onder meer die dwergplanete Pluto, Haumea en Eris.[5] In 2012 was al meer as 200 mane van kleinplanete ontdek.[6] Daar is 76 bekende voorwerpe in die asteroïdegordel met satelliete (vyf met twee elk), asook vier Jupiter-trojane, 39 voorwerpe na aan die Aarde (twee met twee satelliete elk) en 14 Mars-kruisers.[6] Daar is ook 84 bekende natuurlike satelliete van Trans-Neptunus-voorwerpe.[6] Nog sowat 150 klein liggame is al in Saturnus se ringe waargeneem, maar net ’n paar is lank genoeg dopgehou om vas te stel dat hulle wentelbane het. Planete om ander sterre het waarskynlik ook satelliete en hoewel verskeie kandidate al waargeneem is, is geen van hulle as natuurlike satelliete bevestig nie.

Van die binneplanete in die Sonnestelsel het Mercurius en Venus geen natuurlike satelliete nie; die Aarde het een groot satelliet, die Maan; en Mars het twee klein satelliete, Fobos en Deimos.

Die vier groot buiteplanete het uitgebreide maanstelsels, met sowat ses wat omtrent so groot soos die Aarde se Maan is: Jupiter se vier mane van Galilei, Saturnus se Titaan en Neptunus se Triton. Saturnus het nog ses middelslagmane wat groot genoeg is om in hidrostatiese ewewig te wees, en Uranus het vyf. Die moontlikheid is al genoem dat van dié satelliete lewe kan huisves.[7]

Die Aarde-Maan-stelsel is uniek omdat die verskil in grootte tussen die twee liggame baie kleiner is as dié van enige ander planeet-maan-stelsel in die Sonnestelsel, hoewel die verskil in grootte tussen die dwergplaneet Pluto en sy maan, Charon, kleiner is.

Van die ander dwergplanete het Ceres en Makemake geen bekende natuurlike satelliete nie. Pluto het benewens Charon vier klein satelliete: Styx, Nix, Kerberos en Hidra.[8] Haumea het twee natuurlike satelliete en Eris het een. Die Pluto-Charon-stelsel is uniek omdat die massamiddelpunt van die twee liggame buite albei lê – dit is kenmerkend van ’n dubbelplaneetstelsel.

  1. "Satellite". wwww.meriam-webster.com (in Engels). Merriam Webster. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2020. Besoek op 16 November 2015.
  2. Stillman, Dan. "What Is a Satellite?". www.nasa.gov (in Engels). Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2020. Besoek op 16 November 2015.
  3. Sheppard, Scott S. "The Giant Planet Satellite and Moon Page" (in Engels). Departament of Terrestrial Magnetism at Carniege Institution for science. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 September 2013. Besoek op 11 September 2012.
  4. "How Many Solar System Bodies" (in Engels). NASA/JPL Solar System Dynamics. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 26 Januarie 2012.
  5. "Planet and Satellite Names and Discoverers" (in Engels). International Astronomical Union (IAU) Working Group for Planetary System Nomenclature (WGPSN). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2020. Besoek op 27 Januarie 2012.
  6. 6,0 6,1 6,2 Wm. Robert Johnston (11 Januarie 2012). "Asteroids with Satellites" (in Engels). Johnston's Archive. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2020. Besoek op 26 Januarie 2012.
  7. Woo, Marcus (27 Januarie 2015). "Why We're Looking for Alien Life on Moons, Not Just Planets". Wired (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2018. Besoek op 27 Januarie 2015.
  8. "Hubble Discovers New Pluto Moon". ESA/Hubble Press Release (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Mei 2020. Besoek op 13 Julie 2012.

Developed by StudentB